Lourensa Eckard ondersoek die Afrikanerkwessie

kykNET 17 September 2026

In Onthul – Die Afrikaner: Broedertwis gesels Lourensa Eckard met bekende Suid-Afrikaners oor wat dit vandag beteken om ’n Afrikaner te wees. Die episode ondersoek die geskiedenis, taal en verdeeldheid wat dié identiteit vorm, en vra of groter begrip en samewerking moontlik is.

Lourensa Eckard ondersoek die Afrikanerkwessie

“Is jy ’n Afrikaner?” is die eerste vraag wat Lourensa Eckard in ’n spesiale episode van die kykNET aktualiteitsprogram Onthul sommer so uit die heup aan haar medejoernalis Ruda Landman stel.

In dié episode van In gesprek Onthul – Die Afrikaner: Broedertwis, wat op Maandag 21 September om 20:00 op kykNET uitsaai, ondersoek Lourensa Afrikaner-identiteit en die uiteenlopende beskouings daaroor.

 

Verskeie bekende Suid-Afrikaners vertel wat die woord “Afrikaner” vir hulle beteken en bespreek die kwessies wat dié identiteit beïnvloed.

Benewens Landman sluit Lourensa se gaste in prof. Fransjohan Pretorius (historikus), Hermann Pretorius (politieke ontleder van die Instituut vir Rasseverhoudinge en seun van prof. Fransjohan Pretorius), Flip Buys (voorsitter van die Solidariteit-beweging), Tim du Plessis (oud-redakteur van Rapport), Inge Kühne (redakteur van Rapport), dr. Ernst Roets (uitvoerende direkteur van Lex Libertas), Carl Niehaus (EFF-parlementslid), Werner Human (adjunkhoof van AfriForum), Johan Erasmus (stigterslid van Betereinders), Ayanda Zulu (politieke ontleder), Ebrahim Fakir (politieke ontleder), Giulietta Talevi (senior joernalis by Financial Mail) en Frederik van Dyk (prokureur en stigterbydraer van Ontlaer).

Van die deelnemers voer aan dat die ervaring dat Afrikaners vir alles wat verkeerd loop verantwoordelik gehou word, tot afstomping lei en kritiek gevolglik minder trefkrag het.

Die gesprek ondersoek ook hoe die woord “boer” buite die landboukonteks as ’n neerhalende benaming vir Afrikaners gebruik word.

Verder kom korrupsie, misdaad, veiligheid en swak bestuur onder die loep, asook die invloed daarvan op Afrikaners se prioriteite. Die vraag is of dié kwessies slegs sogenoemde “wit Afrikaners” raak, of ook ’n breër groep Suid-Afrikaners.

Lourensa vertel meer oor die episode en deel haar siening oor die Afrikanerkwessie:

Wat beteken die woord “Afrikaner” vir jou?

Vir my is dit tweeledig, dit is hoe jy jouself sien maar ook hoe ander jou sien. ’n Wit Afrikaanssprekende persoon gaan homself nie noodwendig as ’n Afrikaner beskou nie, maar ander Suid-Afrikaners gaan wel. Taal is sekerlik die belangrikste deel van hierdie identiteitsmerker. Jy kan nie ’n Afrikaner wees as jy nie Afrikaans praat nie.

Jy noem dat Suid-Afrikaners nog nooit werklik daarvoor bekend was dat hulle oor belangrike aspekte kon saamstem nie – of dit nou blyplek is of vir wie daar gestem gaan word. Maar is daar tog wel aspekte wat min mense besef dat Suid-Afrikaners wél saamstem?

Ek dink die meeste Suid-Afrikaners het ’n hegter band met hul kultuuridentiteit as hul nasionale identiteit. Dit is ’n goeie ding, want uitermatige nasionale trots kan maklik deur onverantwoordelike individue misbruik word om mense vir wrede doeleindes te mobiliseer. Ek dink die meeste Suid-Afrikaners besef dit en beskou hul kultuurtrots as ’n bastion teen die moontlikheid van bose nasionalisme.

Doen die ouer generasie deesdae genoeg om die jonger generasie in te lig oor die fyner nuanses van wat dit behels om Afrikaner te wees?

Vir baie lank was dit dalk ’n ongemaklike gesprek tussen generasies, maar met die verloop van tyd kan hierdie gesprekke nou makliker plaasvind. Dit is ook nie net ’n historiese en politieke gesprek nie, maar ook een wat te make het met kuns, kultuur en taal. Dat daar wel ’n verantwoordelikheid is op die skouers van die ouer generasie om hieroor met die jonges te praat, is onbetwyfelbaar.

Dink jy die individu se geskiedenis bepaal Afrikaner-wees of is dit ’n keuse wat enige tyd gemaak kan word?

Geskiedenis is natuurlik ’n groot deel daarvan, maar dis nie al nie. Soos genoem is taal die belangrikste bestanddeel. Ek het deernis met iemand wat ongemaklik is met die idee van Afrikanerskap en ek verstaan ook waarom ander weer baie trots is daarop. So, hoewel jy kan kies hoe jy jouself wil definieer, kan jy nie kies hoe ander jou sien nie.

Ruda Landman noem dat Afrikaners nie “eilande van bevoorregting [kan] skep” nie. Is dit hoe Afrikaners oor die algemeen ervaar word en dink jy dis ’n gegronde kommer?

Dit is nie my ervaring van hoe Afrikaners ervaar word nie. Trouens, ek het al met talle gemeenskappe te doen gekry, veral op die platteland en in die landbougemeenskap waar daar daadwerklike pogings aangewend word om mense wat niks het nie, op te hef. Die groter frustrasie in Suid-Afrika is die ongelykheid op ekonomiese vlak, ongeag ras. Daar word deur alle rasse eilande van bevoorregting geskep.

Hoe ’n groot rol speel die politici in die verdagmaking van Afrikaners as ’n bevoorregte etniese groep?

Politici speel ’n reuse rol hierin, maar die meeste Suid-Afrikaners sien deur dit.

Sien jy tog wel beter samewerking onder die Afrikaners in die toekoms? En indien wel, hoekom?

Vir so lank as wat daar Afrikaners in Suid-Afrika is, gaan die sogenoemde Afrikanerdebat nie uitsterf nie. Omstandighede dwing mense om saam te werk, dus gaan beter samewerking onder Afrikaners hiervan afhang.

Wat hoop jy neem die kyker uit hierdie episode mee?

Ek hoop die kyker kry ’n beter perspektief op hoe die verskillende kante en kampe binne die Afrikanerdebat die saak beskou. Ek hoop ook dat die kyker die menslikheid van almal binne die debat sal sien en besef waarom daar so hard baklei word.

Moenie hierdie insiggewende aflewering van In Gesprek Onthul op Maandag 21 September om 20:00 op kykNET (DStv-kanaal 144) misloop nie.

Back to News

Download and watch later

Get the DStv app (Apple or Android) and download episodes to watch on your phone or tablet – just remember to connect to the Wi-Fi first so there are no surprise data costs.

Devices